Saturday, November 28, 2009

Vlug vir Hoerery! Gedagtes oor Morele Reinheid

Ons lewe in 'n tyd waar paartjies maar min daarvan dink om saam te bly voor die huwelik, as hulle enigsins aan trou sou dink. En nou word ons selfs gedwing om homoseksualiteit en prostitusie te oorweeg as aanvaarbare lewenstyl. Die boosheid van ons land roep uit, net soos die bloed van die regverdige Abel na God geroep het, om met ons te handel. Hierdie skrywe is 'n eenvoudige terugroep na morele reinheid en integriteit. Dit is die God van die hemel wat in Sy ewige Woord se:

"Vlug vir die hoerery (seksuele losbandigheid). Enige sonde wat 'n mens doen, is buite die liggaam; maar wie hoerery bedryf (seksueel losbandig lewe), sondig teen sy eie liggaam (1 Kor. 6:18)

Vlug vir hoerery is 'n opdrag van God. Die ou woord hoerery beteken seksuele losbandigheid van enige aard. God se bevel is VLUG! Kom weg van enigiets wat jou gedagtes en jou liggaam moontlik kan opwek tot sondes van die vlees!

God se bevel is nie om sterk te staan of sulke druk teen te staan nie. Die Here beveel jou om weg te kom en dit dadelik te doen! Dit is duidelik dat die mens nie in staat is om sterk te wees wanneer vleeslike intriges ons in die gesig staar nie. Ons krag le daarin om te vlug.

Moenie dink dit is 'n swakheid of lafhartigheid om weg te hardloop van 'n plek waar daar versoekings is nie. Moenie naby dit bly nie. Moet dit nie in jou gedagte koester of voor jou oe hou nie. Sien die dringendheid in daardie woord vlug! Om te talm is nie hoe versoekings hanteer mag word nie. Gooi af jou kleed, man, soos Josef van ouds gedoen het en met groot spoed ontsnap het uit die kloue van daardie verleidster, Potifar se vrou.

Die krag in jou brandende begeerte sal gou verdwyn wanneer jy op 'n afstand is en jou gedagtes op ander dinge vestig - reiner dinge. Ons mag nie talm wanneer ons 'n versoeking tot seksuele sonde in die oe staar nie.

In Korinthiers 6:18 vind ons die rede waarom ons moet vlug: "Hy wat hoerery bedryf (seksueel losbandig lewe), sondig teen sy eie liggaam (vergryp hom aan sy eie liggaam)."

Die sondes van immoraliteit is verskillend van ander sondes. Persoonlike vernietiging tree in wanneer sondes van die vlees sy dodelike houe "teen jou eie liggaam" inkry. Dit laat 'n permanente letsel.

Dan lees ons verder in 1 Korinthiers 6:19-20: "Of besef julle nie dat julle liggaam 'n tempel van die Heilige Gees is nie? Julle het die Heilige Gees, wat in julle woon, van God ontvang, en julle behoort nie aan julleself nie: julle is duur gekoop, en die prys is betaal. Julle moet God dus in julle liggaam verheerlik."

In Christus is ons losgekoop van die bande van sonde met die prys van die kosbare bloed van ons Redder, gestort vir ons in Sy sterwe. Ons het nie die reg om dit wat die Here s'n geword het te besoedel nie. Hy het hierdie liggame aan ons gegee om te gebruik tot Sy eer en verheerliking - wat natuurlik onmoontlik is in Mej. Immoraliteit se bed.

JOU LIGGAAM IS DIE TEMPEL VAN DIE HEILIGE GEES!